Key

On a Saturday morning, on my way to visit my daughters in the city, I became aware of the presence of  a Higher Being.  Thoughts, insight, wisdom were being transferred to my mind.

I was crossing a mountain pass to get to the city. As I reached the top, the cloudless vista of the ocean and mountains opened up before me. At that exact moment I received the essence of the message: I am chosen to play a key role in the conversion of my family. We all need to change the direction of our path in life. A 90 degree turn has to be made.

I bowed my head and tears welled up in my eyes. I felt humble, thankful to be the one to receive such a powerful and far reaching proposal. I can not call it a command, since it was given in such a gentle nudging manner. The decision to accept lies with me.

Koshuisgesin

Die eerste mense met wie ons werklik kennis maak op ons nuwe dorp, is die koshuisvader en sy gesin. Hul woon in die grootste woonstel met 3 slaapkamers, aparte sitkamer, ruim kombuis om die draai van ons af. Hy hou saam met my skool, sy ‘n verpleegsuster by die provinsiale hospitaal. Drie kinders en ‘n ouma.

Ouma het haar eie woonstel in ‘n ander deel van die koshuis. Die stukkie kennis word oorgedra met die volgende sin daaraan vas: sy betaal vol, soos enige ander inwoner.

Die jongste is pas uit die doeke en loop met die vrymoedigheid van haar ouderdom kordaat by ons woonstel in. Skatlik. Sy steel dadelik my hart. Tydig en ontydig is sy daar. Ek laat my dit welgeval. Haar ma werk tot na vyf en pa is dikwels op die sportveld. Dalk kan ek bietjie surrogaat-ma speel. My eie kinders is ver… en op die oomblik is ek nie juis hul gunsteling persoon nie. So ontstaan ‘n stewige band tussen my en dogtertjie.

Haar pa en my man vind mekaar oor ‘n bier en ‘n rugbywedstryd.

Net ek en die verpleegster kan nie stryk nie. Sonder om dit in woorde te sê, kommunikeer sy haar afkeur en misnoë. Jaloers omdat ek haar kind bekoor? Of omdat ons so maklik inburger. Geen aanpassingsprobleme, vat dinge soos dit kom en maak daarvan wat ons wil. Vroeg reeds moes ons hoor hoe moeilik dit vir hulle in hul beginjare op die dorp was.

Dieselfde neerbuigendheid skuil in die twee ouer kinders. Hul beskou die wêreld om hul asof deur ‘n mikroskoop en sien slegs kieme en virusse raak. Hul neuse permanent opgetrek asof van ‘n slegte reuk.

Ek wonder: sit die reuk nie dikwels op die bolip, net onder die neus nie?

Verken

Dit neem ongeveer 20 minute om vinnig deur die dorp se strate te ry. ‘n Slaapdorpie, het ons in Aardrykskunde geleer. Baie mense slaap bloot hier, maar werk in die omliggende groter dorpe. Die dorpskern ‘n mengelmoes goetertjie-winkels wat hoofsaaklik deur buitelanders bedryf word. Slegs een groot supermark waar alle kruideniersware in die toekoms gekoop sal word, indien daar nie geleentheid is om by die groter, goedkoper supermarkte in die stad uit te kom nie.

Daars ‘n duidelike bo-dorp en onder-dorp, en dan natuurlik die kleurlingdorp en blikkiesdorp. Laasgenoemde die woonarea net ‘n stappie bo ‘n plakkerskamp maar nie op die vlak van die kleurlingdorp nie.

In die bo-dorp pryk goedversorgde groot huise in ewe goedversorgde tuine. Blinde oë staar na die straat:  alle vensters is toe, die inwoners met vakansie.

In blikkiesdorp jaag kind, kat, hond en kanarie mekaar in die strate rond. Die erfies is posseël groot en verwaarloos. Vroue-oë kyk verlate terug.

Dis opvallend hoe skoon die kleurlingdorp vertoon. Geen papier in omheinings, oulike tuintjies, huise hier is gekoop, word besit, is eie.

‘n Paar dae later sien ek drie oumensies in ‘n bondeltjie by ‘n stopstraat staan. Dis uitmergelend warm, reg op die hitte van die dag. Ek stop. ‘n Oumenslyf kan vandag onherstelbare skade buite opdoen.

Kan ek hul iewers heen neem?  Ja, ja, asb, na die hotel toe. Daar is muntmasjiene waarop hul soms gaan speel. Die buurvrou sou hul kom oplaai het, maar die kar het gebreek. Toe loop hul maar tot hier aan die voet van die bult, maar dis te styl. Nou wag hul maar.

Ek swaai die deur oop, hul klim in. Vra my uit en kom gou agter ek gaan vir een van hul kleinkinders skool hou. Hul noem die van, ek sal probeer onthou. Voor die hotel word ek hartlik bedank en hul verdwyn na die dobbelmasjiene.

Ek kyk hul agterna en wonder: hoe lank voor ek ook hierdie stoeptrappie op? Is dit hoe ‘n spookdorp sy inwoners vermaak?

Koshuis

My eerste kennismaking met die dorpie was in ‘n doodstil Desember. Warm, winderig. My motor volgelaai met klere sommer so los op die agtersitplek, gordyne, skoene, handdoeke, plastiekbakke…

Ons het ‘n woonstel in die dogterskoshuis. Groot, gerieflik, maar oud en ‘n bietjie afgeskeep. Twee slaapkamers, badkamer, klein kombuisie, sit-eetkamer en studeerhoekie. Oorgenoeg plek vir ons meubels, maar die garagegoed moes in ‘n kas in die gang pas. Ons motors onder die bome langs die woonstel.

Groot oop vertrekke bied altyd aan my ‘n uitdaging: hoe gaan ek die meubels wat ek tot my beskikking het, op die beste manier in die spasie wat ek het, inpas en rangskik. Hierdie keer was geen uitsondering nie. Ek kon die opgewondenheid in my voel wakker word: watter moontlikhede bied elke vertrek aan die meubels en snuisterye wat ek het? Ek kon skaars vir die meubelwa wag.

Dit was doodstil. Die superintendent van die koshuis het die woonstel oopgesluit en die sleutel sommer binne gelaat. Daar was geen siel om ons te verwelkom nie, ook nie eens in die strate nie. Na die stadsgejaag was dit juis hierdie stilte wat die balsem was, die vrede, die rus.

Die klein tuintjie was ‘n aantrekkingskrag. Ek het moontlikhede raakgesien. Klein genoeg om maklik te onderhou, maar groot genoeg om ‘n uitdaging te wees.

Ongeveer twee dae later is ons min of meer ingeburger, uitgepak, gordyne opgehang en ornamente uitgestal. Nou om die dorp te verken.

 

Spookdorpie

Hierdie kategorie se naam na aanleiding van Sheila Cussons se gedig:

 ‘n Kleindorpse fragment

Is al my paadjies toegegroei?
Ek het so lig oor hulle gegaan,
met spitse kaalvoet kennis hier
en daar net grondgevat
want oral was die aarde een
vyandigheid van hitte, duwweltjie en mier:
ek sien my nog waaghalsig nael
soos sonde oor die werf wat gloei
en bitsig aan my voetvel byt,
en, kop omlaag, my vasloop teen
die hele Maandagwasgoeddraad
se haelwit selfgeregtigheid.

Ek bly op ‘n klein dorpie in ‘n besige en welgestelde boerderydistrik. Nou in my sewende jaar hier. Uit die stad gevlug oor familie konflik, die allesoorheersende verkeer en ‘n doodloopstraat in my werk. Hier het ek weer kom asem haal, wyer gekyk en gesien as net die straat en kar voor my.

Myself hier gevind, weer verloor, moed opgegee en van voor af begin. Op ‘n nuwe pad met splinternuwe rigtingwysers.

Oor hierdie dorp en sy mense wil ek vertel. Loer na wie hier bly, wat hul doen, hoekom hul vir jare hierdie betekenislose dorpie hul tuiste maak. Wat is die agterskerms dinamiek, wat gebeur by private huispartytjies agter toe deure. Is die kinders hier werklik meer ongekunsteld, met beter maniere as die stadskinders?

In Desember word dit ‘n spookdorpie. Slegs die groot bruin inwonertal bly tuis. Diegene met strandhuis verkas reeds vroeg-vroeg. Ander laai die 4×4 of dubbelkapbakkie vir uitspan by die see of ander water-oord. Dit is slegs inwoners met geen vakansieplanne of -geld wat in die droë winderige Desemberlug hier agterbly. Soms is jy en jou kar die enigste in die hele hoofstraat. Die kafee en supermarkie se gange is wyd en gemaklik. Jy word dadelik gehelp by die betaalpunt. Kassiere sit oopoë en slaap.

In my gerieflike groot huis en tuin het die leegheid van die dorp my glad nie gepla nie. Dit was hemels.

Afsluiting

Hiermee die laaste in die reeks Voetloose. Ek is terug by die werk, nog steeds met ‘n stut aan die voet, maar vir alle doeleindes, gesond en mobiel genoeg om weer my normale pligte en werksaamhede te hervat.

Wat het ek uit hierdie twee maande geleer?

Ek is nog nie gereed vir aftrede nie:   Ek wonder of iemand ooit regtig weet: nou is ek gereed om nie weer te werk nie, die ekonomiese implikasies eers daar gelaat. Om besig te wees, elke dag iets te doen te hê, te weet jy moet hierheen gaan, jy moet dit en dat daar gaan doen, is dit nie wat die mens aan die gang hou nie?

Ek moet ‘n plan vir die dag hê voor ek uit die bed klim:    Daarsonder kan een dag maklik in die volgende inloop sonder dat ek iets nuttigs verrig het. En een dag kan twee, drie word. Ek moet struktuur hê.

Ek moet uit die bed klim :-)    Om ‘n hele oggend in die bed om te dommel, is vir my maklik. Dit sluit natuurlik by die vorige punt aan. Ek is onvergenoegd as ek bogenoemde doen en nie nuttig voel nie, maar ek doen dit desnieteenstaande.

Ek is nie ‘n maklike mens om mee saam te leef nie:   Ek kan wees, maar in my natuurlike staat is ek nie. Iets waaraan aktief gewerk moet word. In verdediging kan ek moontlik die hele menopause ding ophaal, maar, alhoewel dit ‘n effek het, glo ek ek moet myself net ‘n slag onder hande neem en die leviete voorlees.

Dit wat binne-in my aangaan word dikwels deur ‘n ontoeganklike uiterlike verbloem:   En as mense daarop reageer, kan ek nie verstaan hoe hul tot so  ‘n afleiding kan kom nie. Hoe ek dit gaan verander, indien moontlik, weet ek nie.

Ek het die Skepper beter leer ken:   ‘n Pad met Hom gestap en my verhouding met Hom verstewig. Groot genade en vrede so beleef. Sal sy hulp beslis oor die vorige twee punte moet vra.

Ek is lief vir my man:  Hy is ook nie ‘n maklike mens nie, maar het tog  ‘n sagtheid en liefdevolheid binne-in hom wat my bly aantrek. Die maande wat verby is, was dikwels oor hobbelrige pad, soms oor stekelrige heuwels en ons albei het daaraan skuld. Ek wil vir hom die vrou wees wat die Vader vir my bestem het om te wees.

Ek het die volgende waarheid geleer:  my natuurlike reaksie op sake, kwessies, dinge is nie altyd die regte een nie. Ek het ‘n keuse oor hoe om te reageer. Nou moet ek dit net nog gaan toepas!

Ek is ‘n introvert wat vir dae lank sonder mense kan klaarkom:   Ek het ‘n hele lewe binne-in my kop wat genoeg afleiding bied dat ek nie die van mense nodig het nie. Gelukkig het ek ook agtergekom dat as ek na ‘n lang tydperk van afsondering, weer met vriende sosialiseer, dit tog  lekker is. Net nie elke dag nie.

My kinders gee tog vir my om:   Dit was die beste besef en aan daardie verhoudings gaan ek werk dat dit net nog beter word.

Hou dop vir die volgende onderwerp. Ek sal maar altyd skryfsels hê om te deel…

See

‘n Paar dae by die see aan die einde van die vakansie.  Het reikhalsend uitgesien.  Die see, skulpe, sand, seewind, sout… dit laai my ione.

Maar op pad soontoe is die atmosfeer tussen ons twee so gespanne dat enigeen wat sy mond oopmaak, se kop afgebyt word.

Die volgende dag waai die wind en daar val selfs ‘n paar druppels. Gelukkig het die atmosfeer opgeklaar. Ons verken die omgewing. Van visvang of sonbaai is geen sprake nie.

Eers op dag drie kan daar visgevang word.  Te veel mense langs die water en dis dooiegety. Ons ry op en af op soek na die ideale plek. Besluit later om maar net te stop en lyn nat te maak. Met geen sukses.

Ek hobbel met my nuwe funksionele seuntjie-skoene oor die rotse. Voorheen was die rinkink op die rotse en in die poeletjies die hoogtepunt, nou het ek geen selfvertroue om op hierdie soort terrein te waag nie. Hoe lank nog voor ek die voet en been weer vertrou?

Die hoogtepunt van die paar dae is die alleen stappie op die strand en die strandkuns. Daar kon ek sonder onderbreking of spanning met my Vader gesels.