Tuinvoëls

Ek het ‘n ruwe houtbankie op my voorstoep wat op ‘n laat-Lente-middag ‘n perfekte uitsig oor die tuin bied. Die son het al oor die dak van die huis verdwyn, so dis nie erg warm nie en nog nie aandkoel nie. Net reg, soos Gouelokkies se beertjiepap🙂

My tuin bestaan uit twee dele: links vetplante, vygies, alwyne en regs inheemse fynbos. Die vygies staan in volle blom, so pienk dit maak jou oë seer om in helder sonskyn daarna te kyk. Alwynblomme hang rooi en oranje. Die lavenders langs die paadjie is vol bye en insekte wat die pers blommetjies besoek. Die heide, speldekussings, tolbosse en wilde salies staan vol en wild in die blom.

Ek is trots op my tuin, want ek het dit self beplan en beplant. Ruwe kronkelpaadjies met klip tussen die akkers uitgepak. Kiets dink dis spesiaal vir hom en hy stap kordaat soos ‘n leeu deur die bosveld.

Gistermiddag, na my dogter se kuiertjie, sit ek op hierdie bankie met my voet in die lug en bewonder die ligspel van die laatmiddag oor die tuin. Toe let ek al die voëls op. Helderkleurige suikerbekkies hang onderstebo aan die alwynkelkies, ‘n hamerkop kap-kap in die grond op soek na iets om te eet, duiwe kom bad in die voëlbad, mossies en klap-klappies flits heen en weer. Pragtig, salig, bevoorreg is van die woorde wat by my opkom. Hierdie toneel is reguit uit die hemel vir my gegee.

Dit herinner my aan die vers in Matt 6:26: “Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Dankie Vader, vir hierdie absolute vrede en seën wat U oor my uitstort. U is inderdaad die Voorsiener, Almagtige, Skepper. Ek eer U teenwoordigheid in my lewe!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s