Kruis

Ek het wol nodig om my besig te hou en vra my man om my na ‘n padstalletjie wat pragtige katoengare verkoop langs die grootpad naby ons dorp, te neem.

Op pad terug sien ons ‘n man langs die pad stap. Hy dra iets oor sy skouer. Toe ons naby kom, is dit ‘n kruis, met ‘n wielietjie onder aan. Dis op die middaghitte en my eerste gedagte is: ag nee, hy is seker nie lekker nie.

Ek vertel my man van ‘n e-pos wat ek onlangs ontvang het:  ‘n teken prentjie van ‘n klomp mense wat kruise dra. Die een outjie sukkel erg en vra God om sy kruis se langste been korter te sny om dit ligter te maak. Hy kry dit reg om makliker te stap maar steeds kla hy. Die keer word sy kruis korter gemaak.

Dan bereik die groep ‘n diep kloof wat hul moet oorsteek. Die groep se kruise is lank genoeg om van die een kant tot die ander kant te strek sodat hul maklik kan oorstap. Die mannetjie met die korter kruis kon dit nie regkry nie, hy moes agterbly of ‘n ander plan maak.

Betekenis: probleme in jou lewe maak jou net sterker sodat jy krisisse kan hanteer.

Vanoggend na die boodskap in die kerk stel die pastoor ‘n man voor wat die land deurkruis met… ‘n kruis. Dieselfde man wat ons die vorige dag langs die pad gekry het.

Hy lyk glad nie of daar iets fout is met hom nie. Sy boodskap is reguit, suiwer, in goeie taal. Hy tree op in opdrag van die Here. Hy praat van die Bruid van Christus, en die eindtyd. Ons moet gereed wees, gehoorsaam, bereid. Die oes is groot, maar die arbeiders min. Die hoeveelheid geld in jou bank gaan nie saakmaak nie, net die hoeveelheid siele wat jy help red het.

Met hoeveel mense het ek al oor die Here gepraat? Hoe gehoorsaam is ek aan hierdie oproep? Het ek al ooit my gemaksone vir die Here verlaat?

Stof tot nadenke.

Buite die kerk lê die wielietjie-kruis op sy sy en wag vir die draer wat nie terugdeins vir die lengte daarvan nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s