Twee dinge

Twee dinge gebeur die naweek.

Saterdagoggend word ek douvoordag wakker met ‘n skrif in my kop. Ek het pas gedroom oor die plaasopstande en -onluste in die Wes-Kaap.

Ek soek die skrif in die Bybel.  Jakobus 5:4-7: “Ja, julle hou die loon agter van die werkers wat julle land afgeoes het. Dit skreeu ten hemel; die geroep van dié wat geoes het, het tot by die Here die Almagtige gekom…”

Ontstellend. Reguit. Wat wil die Here vir my sê, wat moet ek daarmee doen? Waarheen moet ek hierdie skrif neem? Hoe moet ek dit interpreteer? Pastoor kan my nie ‘n klinkklare antwoord gee nie. Ek moet daaroor mediteer, luister wat die Here daaroor vir my wil sê.

Dit bly die heel tyd by my. Die Here het met my gepraat, ‘n opdrag gegee, maar ek weet nie wat om daarmee te doen nie, nog nie…

Die tweede ding is dat daar vir die tweede keer binne twee maande by my dogter se motor ingebreek is. Niks is gesteel nie, net die ruit gebreek… R500 waarvan die versekering R200 betaal. Uit my sak, daar is niemand anders wat daarvoor sal ma-staan nie.

Ek is aanvanklik platgeslaan, ontevrede, in opstand. Ek bid dan, vra beskerming. Hoekom al weer? Ek is ver van haar, reëlings moet telefonies getref word, geld moet oorgeplaas word, ens, ens. Moeite.

Dan sien ek ‘n TV program waar die dogters in twee gesinne verlam is na ‘n ongeluk. Die een ‘n kwadrupleeg wat nie eens ‘n bladsy in ‘n boek kan omblaai nie. En ten spyte daarvan is albei moeders positief, die dogters vasberade om hul skooljaar te voltooi.

Hoe weeg ‘n ou venstertjie wat vir die tweede maal gebreek is, op teen hierdie waarheid? My kind is springlewendig, gesond, pragtig. Net haar kar se venster is gebreek.

Dan besef ek die beskerming was daar. Dit kon soveel erger gewees het.

Dankie, Vader, dat U so gou perspektief bring. Dankie vir die boodskap aan my uit ‘n tragedie van iemand anders. Dankie vir U genade oor my en my gesin.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s