High Tea

Ousus nooi my en Kleinsus vir high tea by ‘n wynlandgoed. Ek glo dis haar vergoeding vir die Kersfees kaping. Bied selfs aan om my te kom haal sodat ek nie hoef te bestuur nie, maar gelukkig is ek nou al heel mobiel en weer onafhanklik. Ek ontmoet hul by die restaurant.

Sy is heel in beheer, het plek bespreek,  neem die leiding. Ek laat haar toe. Nog ‘n trappie na volwassenheid.

Die kelnerin het ‘n uitlandse aksent. Ons debatteer oor van waar sy is. Ek wil haar sommer vra, maar die twee jonges verbied my in een asem. Oudste glo sys Frans, ek dink eers Duits omdat sy blond is, later Switsers. Dit bly ‘n misterie.

Sy kom laai ‘n drielaagkoekstaandertjie af wat van bo na onder met lekkernytjies gevul is. Soutighede in die middel en heerlike soetgoed bo en onder. En Rooibostee – vir ‘n Suid-Afrikaanse high tea!

Dis ‘n pragtige omgewing, onder groot koeltebome. Ons drie sit op ons eie klein eiland met ‘n uitsig oor die hele stoep en grasperke. Ons gesels oor waar die gebruik van high tea ontstaan het, wat die lekkerste op die staandertjie is en wonder hoekom sy nie kleinbordjies gebring het nie. Ons skuif aan na gemeenplasies, lekker los geselsies tussen ma en dogters. ‘n Goue middag saam met my twee pragtige kinders.

Hul terg my goedig en ek let op Jongste vat altyd Ousus se kant teen my. Ek laat dit my welgeval. Vandag is nie die tyd vir kleinserigheid nie. Jongste sit op ‘n stadium selfs haar hand op my arm en ek onthou hoe sy as dogtertjie altyd teen my kom sit het met haar kop teen my skouer. Deesdae is aanraking tussen ons min en word ek afgejak as ek dit sou waag. Hierdie gebaar raak my dus nou.

Die kelnerin vra of ons die rekening wil hê. Sy kyk na my en ek knik. Maar Oudste neem dit toe dit kom, vra vir ‘n kaartmasjien en betaal self. ‘n Eerste en ek geniet die oomblik. Nie omdat sy geld op my spandeer nie, maar omdat sy weet hoe om in die wêreld van volwassenheid op te tree en reg te kom. Sys gespeen, het arrive. Ek is mateloos trots op haar.

Later stap ons in die tuin en vind ‘n kampie met dwergbokkies en Lamas. Hul altwee is diereliefhebbers wat dadelik kontak wil maak met enige dier. Ek staan hul en dophou, geniet die oomblik, neem foto’s vir my fotobord.

Op pad huis toe mymer ek oor die middag, baai myself in die sukses en mooi daarvan. My kinders is ok, ten spyte van…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s