Afsluiting

Hiermee die laaste in die reeks Voetloose. Ek is terug by die werk, nog steeds met ‘n stut aan die voet, maar vir alle doeleindes, gesond en mobiel genoeg om weer my normale pligte en werksaamhede te hervat.

Wat het ek uit hierdie twee maande geleer?

Ek is nog nie gereed vir aftrede nie:   Ek wonder of iemand ooit regtig weet: nou is ek gereed om nie weer te werk nie, die ekonomiese implikasies eers daar gelaat. Om besig te wees, elke dag iets te doen te hê, te weet jy moet hierheen gaan, jy moet dit en dat daar gaan doen, is dit nie wat die mens aan die gang hou nie?

Ek moet ‘n plan vir die dag hê voor ek uit die bed klim:    Daarsonder kan een dag maklik in die volgende inloop sonder dat ek iets nuttigs verrig het. En een dag kan twee, drie word. Ek moet struktuur hê.

Ek moet uit die bed klim🙂    Om ‘n hele oggend in die bed om te dommel, is vir my maklik. Dit sluit natuurlik by die vorige punt aan. Ek is onvergenoegd as ek bogenoemde doen en nie nuttig voel nie, maar ek doen dit desnieteenstaande.

Ek is nie ‘n maklike mens om mee saam te leef nie:   Ek kan wees, maar in my natuurlike staat is ek nie. Iets waaraan aktief gewerk moet word. In verdediging kan ek moontlik die hele menopause ding ophaal, maar, alhoewel dit ‘n effek het, glo ek ek moet myself net ‘n slag onder hande neem en die leviete voorlees.

Dit wat binne-in my aangaan word dikwels deur ‘n ontoeganklike uiterlike verbloem:   En as mense daarop reageer, kan ek nie verstaan hoe hul tot so  ‘n afleiding kan kom nie. Hoe ek dit gaan verander, indien moontlik, weet ek nie.

Ek het die Skepper beter leer ken:   ‘n Pad met Hom gestap en my verhouding met Hom verstewig. Groot genade en vrede so beleef. Sal sy hulp beslis oor die vorige twee punte moet vra.

Ek is lief vir my man:  Hy is ook nie ‘n maklike mens nie, maar het tog  ‘n sagtheid en liefdevolheid binne-in hom wat my bly aantrek. Die maande wat verby is, was dikwels oor hobbelrige pad, soms oor stekelrige heuwels en ons albei het daaraan skuld. Ek wil vir hom die vrou wees wat die Vader vir my bestem het om te wees.

Ek het die volgende waarheid geleer:  my natuurlike reaksie op sake, kwessies, dinge is nie altyd die regte een nie. Ek het ‘n keuse oor hoe om te reageer. Nou moet ek dit net nog gaan toepas!

Ek is ‘n introvert wat vir dae lank sonder mense kan klaarkom:   Ek het ‘n hele lewe binne-in my kop wat genoeg afleiding bied dat ek nie die van mense nodig het nie. Gelukkig het ek ook agtergekom dat as ek na ‘n lang tydperk van afsondering, weer met vriende sosialiseer, dit tog  lekker is. Net nie elke dag nie.

My kinders gee tog vir my om:   Dit was die beste besef en aan daardie verhoudings gaan ek werk dat dit net nog beter word.

Hou dop vir die volgende onderwerp. Ek sal maar altyd skryfsels hê om te deel…

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s